• Om te sien en te doen
    Om te sien en te doen

Besienswaardighede en aktiwiteite

Daar is talle historiese geboue om te besigtig soos byvoorbeeld die Smuts/Maritz Kantoor, die Waenhuis, die Opstal en talle meer. Vir die avontuurlustiges is daar ook ‘n 4x4-roete en staproetes.

4x4-Roetes

Verskeie 4x4-roetes is gevestig en is in die proses om gegradeer te word. Gebruik hierdie roetes op eie risiko met 4x4-voertuie. Voertuie kan ook by Willemsrivier gehuur word. Toergidse is ook beskikbaar op aanvraag. Daar is vier verskillende roetes beskikbaar naamlik: Rooigrond, Oshoek, Die Muur en Kromhoek. Meer inligting is op versoek hieroor beskikbaar. Roetes kan tussen twee ure tot twee dae neem afhangende van ervaring en die tyd beskikbaar. Selfsorg-verblyf is beskikbaar by Willemsrivier. ’n Ander opsie is om by die “trapvloer” - wat eersdaags opgeknap gaan word - te gaan kamp. Kampering op die 4x4-roetes self kan vir natuurliefhebbers gereël word.

Staproetes op Willemsrivier

Daar is verskillende staproetes op Willemsrivier en in die naby omgewing. Bring stapskoene, ’n kamera en neem vars water saam. Elke staproete kan geïdentifiseer word met ’n kaart, afstand en die bepaalde tyd wat dit neem om te voltooi. Interessante inligting, byvoorbeeld oor die geskiedenis, is ook oor elke roete beskikbaar. Te sien op staproetes: 'n verruklike blomparadys in blomtyd, die talle interessante historiese geboue op die plaas, die grootste verskeidenheid inheemse bolplante in die wêreld, die omliggende plase en plaasaktiwiteite soos skaapskeer in Februarie en Augustus.

Blomroete

Die skouspel van die jaarlikse blomseisoen is op sy mooiste hier op Willemsrivier. Duisende verskillende blom spesies lê elke jaar en wag om te sien wat die weer gaan doen. Dus, elke jaar, tussen Julie en Oktober, is daar ‘n ander formule en ‘n ander verskeidenheid blomme (elke jaar uniek). Die blomprag op die plaas en omgewing kan ook op die stap- en bergfietsroetes gesien word. Besoekers het ten minste twee of drie dae nodig om volle prag van die blomtapyte in te neem. Op Willemsrivier is daar ook verskeie unieke blomspesies wat net hier gevind word.

Bergfietsroetes

aar is twee 4x4 of bergfietsroetes. Die een noem hulle OsHoek - wat naby OuPlaas is - en die ander een is die Rooigrond-roete. Die Rooigrond-roete is pragtig en lyk soos 'n reus se speelgrond vanweë die skouspelagtige rotsformasies. Die OsHoek-roete is meet uitdagens en net vir die avontuurlustiges! Geniet die pragtige natuurskoon en die vars Namakwaland plaaslug terwyl jy die heuwels aandurf.

Ouplaas

Geen besoek aan Willemsrivier is voltooi sonder ’n besoek aan Ouplaas nie. Ouplaas was oorspronklik een van die 5 vierkant-plase. Hier kan besoekers verskeie interessante ou sandsteen-ruïnes sien. ’n Kamera en loopskoene is ’n moet. Ouplaas is nie ver van Willemsrivier nie - dis op die Grasberg-pad, ’n grondpad wat met ’n gewone motor gery kan word. Jy kan Ouplaas ook besoek te perd, met fietse en motorfietse of jy kan daarheen stap. Ouplaas is 13 km van Nieuwoudtville.

Aktiwiteite op die plaas

Die Kotzé's boer met vleis, wol en Rooibostee asook aangeplante weiding. Besoekers aan die plaas is meer as welkom om die boerdery-aktiwiteite te besigtig. Skaapskeer is in Augustus en in die herfs. Dis veral interessant om te sien hoe vinnig die skeerders van die skape se dik wolle ontslae raak. Daar is talle mak diere op die plaas, waaronder ganse, bokke, eende en hoenders.

Wat ons gaste sê...