Spookstories

Posted on Wed May 26, 2021.

Lord Louw, ouma Mieta se oom, was ‘n man wat nóóit gewerk het nie. Hy was meestal geklee in ’n  wit baadjie en het ook graag viool gespeel. Lord Louw het besonders baie van koffie gehou en het altyd die gewoonte gehad wanneer iemand vir hom koffie inskink het, om weg te kyk wanneer die koppie amper vol is. Dan het hy gewag totdat die piering ook vol koffie is voordat hy gesê het: “So so so…”.

In 1950 het Pierre Wolfaart, ‘n man wat uit die Kaap gekom en ’n winkel op Nieuwoudtville begin het, die lande op Ouplaas gehuur. Hy het baie hard gewerk en snags ook geploeg. In daardie jare was dit as ’n “deelsaaiery” bekend – die huurder saai en oes die lande en die eienaar van die plaas ontvang ‘n kwart van die opbrengs.

Nadat Pierre Wolfaart weer een aand so laat by die huis gekom het na sy werkery op Ouplaas, kom oom Willie Kotzé die volgende dag by hom in die winkel op die dorp. Pierre sê toe vir oom Willie dat hy die vorige aand op pad dorp toe gesien het dat daar ’n dans op Willemsrivier was. “Nee, daar was nie ’n dans nie!” sê oom Willie. “Ja, daar was!” hou Pierre aan.

Toe Pierre by die pennie-hek stop om dit oop te maak, stap daar ’n man met ‘n witbaadjie en viool tussen die bakkie en die hek deur tot by die plaas.

Hy moes nog die bakkie “effens terugstoot” sodat die man kan verby kom.

Oom Willie het net laat hoor: :O G… dis Lord Louw!” (reeds gedurende 1920’s oorlede).