Grond word verloor

Posted on Wed May 26, 2021.

In 1927 sterf oupa Theun Kotzé skielik aan ’n hartaanval langs die houthoop op Willemsrivier. Op daardie stadium was hy ook in ’n mondelinge vennootskap met Floors Louw om met skaap te spekuleer (koop en verkoop). Oupa Theun moes die geld voorskiet om die skape aan te koop, terwyl Floors die aankoopwerk gedoen het. ’n Verband van 800 pond was by Standard Bank in Theun se naam geregistreer, maar volgens oorlewering was oupa Theun se testament nie geteken nie en het Standard Bank ‘n groot gedeelte van Willemsrivier bekom.

Die bankbestuurder het vir die familie gesê hulle hoef geensins bekommerd te wees nie, hy sal die grond op die vendusie terugkoop en dan kan die familie dit weer by hóm terugkoop. Maar soos in baie gevalle, het hierdie man nie sy woord gehou nie, en het die grond aan ’n vriend van hom, Koos Louw van die plaas Oorlogsrivier, verkoop.