Geskiedkundige geboue op die plaas

Posted on Wed May 26, 2021.

Ronde trapvloer en kafhok

Nadat die koring met die sekels afgesny en in gerwe gebind is, is dit met ’n perdewa na die dorsvloer aangery. Later van tyd is ’n snymasjien gebruik om die koring te sny en gerwe te bind. Langs die dorsvloer is ’n groot mied gepak. Die gerwe is op die trapvloer uitgepak, die toue losgesny en daarna is die diere ingebring om op te trap.

Perde, donkies of muile is vir hierdie doel gebruik. As die are goed getrap en die strooi fyn is, word die diere uitgejaag. Wanneer die westewind gewoonlik in die namiddag waai, word daar begin wan. Dit die strooi word met behulp van ’n vurk of gaffel teen die wind gegooi sodat die kaf kan wegwaai terwyl die koringkorrels regaf val.

Daarna word die koring weer met skoppe teen die wind opgegooi en die litte word met ’n jaagbesem verdryf. ‘n Jaagbesem se veegedeelte was “oopgespalk” om ’n waaiervorm aan te neem. Om so ’n besem doeltreffend te kon gebruik, het ’n besondere tegniek vereis.

Die koring word dan met behulp van ’n koringskop of houtgraaf in sakke gegooi. Gewoonlik is vier boesel in ’n sak gegooi. Dit was ook gelykstaande aan ’n mud. Agt emmers koring was ook ’n mud. Daarna word die kaf met ’n wanbesem in die kafhok gevee. Die kaf word in sakke gestop en soos benodig na die stalle geneem om die diere te voer.

Die kombinasie waar die trapvloer, kafhok en kraal aangrensend is, word op die Bokkeveld aangetref. Die diere wat die koring uitgetrap het, is in die kraal aangehou sodat hulle maklik bereik kon word en tyd gespaar word.

Smuts en Maritz se kantoor

Hierdie gebou is in 1745 opgerig en was ook die eerste gebou op Willemsrivier.

Tydens die Anglo-Boere-oorlog (1899 – 1902) het general Smuts en Manie Maritz by afsondelike geleenthede in hierdie huisie tuis gegaan. Uit die aard van die saak het hulle nie langs dieselfde vuur gesit nie, en het dus nooit terselfdertyd in die huisie gebly nie.

Die geboutjie het ’n wolfsneus-gewel en die onderste gedeelte van die mure is van klip gebou, terwyl die res van die mure met ‘n mengsel van klei en strooi gebou is.

Met die uitsondering van die “Blikhuis”, was Smuts en Maritz se Kantoor, net soos die res van Willemsrivier se geboue, se oorspronklike dak ook met riete gedek. Die “blikhuis” was James McGregor se woonhuis en het van die begin af ’n sinkdak gehad.

Volgens oorlewering het Maritz op ’n keer, toe hy daar oorgebly het, vir ouma Mieta gevra om vir hom warm water te bring sodat hy hom kon was. Hy het toe haar man, Paul Kotzé, laat roep. Dié moes na ’n skietwond kom kyk en moes aanhoor hoe Maritz “hom vir die Afrikaner laat skiet het”.

Die storie gaan dat Maritz op die plaas Tontelbos Tussen Calvinia en Brandvlei, so erg gewond is dat ’n mens “sy longe in sy liggaam kon sien beweeg”. Blykbaar was hy slegs ’n paar dae uit die saal voordat hy sy terugkeer gemaak het.

Tronk

Die gevangenes wat gehelp het met die bou van die pad en pas teen die Bokkeveldsberg, het in die nag hier kom slaap. Tralies is voor die vensters aangebring om te verhoed dat hulle kon ontsnap.

Juffrou se kamer

Ongeveer 250 meter weg van die skooltjie, is die geboutjie bekend as “Juffrou se kamer”. Dit was die huisvesting van die onderwyseres wat vir die kinders se onderrig verantwoordelik was.

“Juffrou se kamer” se dak is met spaansriet en populierhout dalkbalke gebou en is vandag nog te sien. Die vertelling is dat Juffrou een dag haar enkel op die trappies verstuit het. Die skoolkinders moes haar vanaf haar kamer na die skool op ’n kruiwa stoot sodat sy haar taak kon uitvoer. As die klok in die middag gelui het, moes die hele petalje weer herhaal word.

Skooltjie

Die ander helfte van die genoemde gastehuis was die skooltjie. Daar was altyd ’n wisselende hoeveelheid kinders van verskillende ouderdomme.

Jode se winkel: Fisher en Vogelman

Die een helfte van een van die bestaande gastehuise op die plaas was vroeër ’n Joodse winkeltjie. Die twee handelaars was mnre. Fisher en Vogelman. In die volksmond was hul sommer bekend as Fister en Voëlman.

Oom Willie se huis

Vandag word daar na hierdie gebou as “oubaas Willem se huis” verwys. Baie van die saad wat vir die nuwe seisoen aangekoop word, word hier gestoor.

Oupa Paul en Ouma Mieta se huis

Hierdie gebou is vroeër as die “wynkamer” en “melkkamer” gebruik en is vandag bekend as die “werkswinkel” en die “Kantoor”.

Die Stal

Die stal was langs die meulhuis waar die koring gemaal is. Wanneer die meel klaar gemaal was, is die perde stal toe gebring en voer gegee.

Vandag is hierdie gebou bekend as die “Blomhuis”. Dit word as ’n gastehuis bedryf en is veral gewild tydens die blommeseisoen.

Die Meulhuis

In die meulhuis was ‘n koringmeul wat deur esels aangedryf is, maar gedurende die Anglo-Boere-oorlog in 1901 het Engelse soldate op Willemsrivier aangekom en opdrag gegee dat die meul uitgekap moet word. Opdrag is ook gegee dat al die broodkoring wat in die huisie was, uitgedra en op stukke hout van die meul gegooi moes word. Daarna is alles aan die brand gesteek. Twee van die soldate moes agterbly nadat die groep die plaas verlaat het om toe te sien dat alles uitbrand.

Dié twee soldate het egter gesien dat die boer se vrou, Mieta Kotzé, elf kinders het. Hulle het haar geroep en gesê dat sy van die koring moes kom haal, en op ’n veilige plek moet gaan bêre, sodat sy vir haar kinders van kos kon voorsien.

Na die oorlog het Paul Kotzé, wat toe die eienaar van Willemsrivier was, ’n skrynwerker van Clanwilliam af laat kom om ‘n nuwe meul in die meulhuis in te bou. In daardie jare was daar goeie skrynwerkers in die Clanwilliam-omgewing omdat hulle baie met sederhout daar gewerk het.

Toe, in 1947, word Willemsrivier se eerste trekker aangekoop. Omdat die mense toe nie veel waarde aan kultuurgoedere geheg het nie, is die meul uitgehaal, en het die verskillende dele mettertyd verlore gegaan.

Vandag word die meulhuis as ’n trekkerstoor gebruik.

Die sandsteen Hulpkerk

Alexander McGregor, wat die twee morg grond op Willemsrivier geskenk het waar die hulpkerk gebou is, is volgens oorlewering een van die McGregor’s wat te voet van Citrusdal na Nieuwoudtville gekom het.

In 1874 stig die Calvinia-gemeente van Clanwilliam af en dit het ook Nieuwoudtville ingesluit.

Reeds in Oktober 1975 het die Commissie ter vermeerdering van gemeenten by die Ring van Tulbagh aanbeveel dat daar vanuit die gemeente Calvinia ’n nuwe Gemeente gestig moes word. Aangesien daar egter onsekerheid was oor waar die Gemeente gestig moes word, is die saak terugverwys na bogenoemde kommissie en die kerkraad van Calvinia. Die saak het herhaaldelik voor die Ring gedien, maar die aanleg vir ’n geskikte kerkplaas kon nie gevind word nie.

In 1885 het die getal lidmate die tweeduisend kerf bereik en het afgevaardigdes van Calvinia kom ondersoek instel om ’n Gemeente op Nieuwoudtville te stig. Op April 1885 is begin met die bou van die kerk wat bekend gestaan het as die ‘Hulpkerk van die Calvinia-gemeente vir die bediening van die Noord-Onder-Bokkeveld’. Op daardie stadium het inwoners van Loeriesfontein ook na hierdie hulpkerk op Willemsrivier gekom.

Die kerkie is met sandsteenklippe wat plaaslik aangetref word, gebou. Dit is met ongebreide perdevelle na die terrein aangesleep. Later jare is daar ook ‘n konsistorie, moederskamer en ‘n stal vir die kerkraadslede se perde aan die een kant van die kerkie aangebou.

Vanaf 1890 is daar doelbewus aan die afstigting van ’n nuwe gemeente gewerk, maar die plaas Willemsrivier was nie vir ‘n aanneembare prys te koop nie. Dit was ook nie geskik vir die aanlê van ‘n dorp beskou nie as gevolg van ’n gebrek aan genoeg water.

Vandag is die kerkie in besit van mnr. Japie Nel en word dit as ‘n pakstoor gebruik. Die kerkie kort aandag om dit tot sy volle glorie te herstel.

Ongeveer 400 meter weg van die kerk, is daar ook ‘n groot pastorie wat met sandsteen gebou is. Ook dit word vandag as ’n pakstoor gebruik.