Gelowe / Bygelowe

Posted on Wed May 26, 2021.

Ouma Mieta het geglo dat die geheim om ‘n suksesvolle tert te bak in die rys van die deeg lê. Terwyl die deeg aangemaak word, mag daar nie hard naby die deeg gepraat word nie. Altwee deure van die kombuis, die een na buite en dié na die res van die huis, moes toegemaak word. Indien daar ‘n trek op die deeg sou kom, sal dit ook nie rys nie.

Sy was ook oortuig dat jy nooit op ’n Vrydag ‘n patroon vir klere uit materiaal mag knip nie. Dit sal jou baie ongelukkig maak. Dieselfde sou gebeur as jy onderdeur ‘n leer sou stap wat regop teen ’n muur staan.

Oom Paul (Boeta Paul) was baie bang vir spoke. Sy motor was in ‘n waenhuis ongeveer vyftig meter van sy huis. Wanneer hy saans sy motor moes gaan instoot, het hy geglo om ’n vuurhoutjie te trek en oor sy linkerskouer te gooi. Dit sal dan enige spook weghou.

Wanneer ‘n mens jou skoene in die aand uitgetrek het en wil verhoed dat spoke jou in die nag lastig val, moet jy hulle neersit dat hul neuse in die teenoorgestelde rigtings wys. Selfs al word daar net op ‘n spook gevloek, sal dit verhoed dat hy nader kom!

Vroeër jare het die mense ook geglo wanneer die donderweer opsteek, jy al die vensters van jou huis moet toemaak om te keer dat die weer by jou huis inkom.

Wanneer reptiele loop soos bv. slange en skilpaaie , is daar reën in aantog. As jy ’n pofadder sien, kom daar sommer ‘n groot reën.

Die Sishen-Saldanha spoorlyn loop reg noord van Willemsrivier. As jy die dag dié trein kan hoor, is dit ook ’n teken van reën, want dan is die lug reg noordwes.

Wanneer jy op die plato staan en in ‘n noord-oostelike rigting kyk en los mis in ‘n digte bank onder die berg in al die klowe sien lê, is reën in aantog.

Wanneer die kokkewiet roep en die misbank kom uit, is dit nog nie ’n teken van definitiewe reën nie. Dit kan dalk net koel lug wees.