Die Rebellie van 1914
Tydens die Rebellie het almal op Willemsrivier gerebelleer. Baie boere het by die Rebellie aangesluit, want hulle was onder die indruk dat hulle onder die Engelse juk sal uitkom. Daar was ook sprake dat Duitsland die rebelle teen Engeland sal help.
Die Rebellie was bekend as die “Huil-oorlog” want die boere het swaar afskeid geneem van hul vrouens, kinders en plase. Almal was hartseer en het nie geweet of hul ooit weer hul geliefdes gaan sien nie.
Twee van Willemsrivier se boere, nl. Oupa Theun en oom Attie Kotzé, net ook op rebellie gegaan. Oupa Theun, wat ’n oujongkêrel was, het “nie iets gehad om oor te huil of om na te verlang nie”.
Oupa Theun se perd, Heitsman, was ’n mooi perd met fris agterstewe. Dié perd was bekend daarvoor dat hy “baie vinnig van die wegspring was”. Oom Attie het weer ’n hoë, rankerige perd met die naam van Black gehad. Black was weer bekend vir sy goeie uithouvermoë om ver te kan hardloop.
Gedurende die Rebellie het daar ’n noue band tussen Heitsman en sy ruiter ontstaan. Slegs een kombers is saamgeneem en volgens oorlewering is die storie dat oupa Theun saans sommer baie vinnig op sy kombers moes gaan lê nadat hy dit oopgegooi het, of Heitsman maak hom daarop tuis. Somtyds het die boere sommer teen die saal sit en slaap nadat daar afgesaal is.
Die Louws en die Kotzé’s het as voorsorgmaatreël snags om die beurt wag gestaan onder die peperbome om die plaas te beskerm. Een nag het ‘n hoender wat in die takke geslaap het, afgeval en tussen die takke gefladder grond toe. Toe het Attie Louw vreeslik hard geskree: Hensop”! Natuurlik tot groot vermaak vir die res!
Deel Hierdie Artikel