Die droogte van 1933
Tydens dié groot droogte het die Kotzé’s gehoor dat daar nog goeie weiding naby Grootdrif, onder die Bokkeveldsberge, beskikbaar was. Daar is besluit om, behalwe vir ’n paar karperde, die res van die perde bergaf te neem met die Oude Voetpad-roete, want op Willemsrivier was daar geen weiding meer oor nie.
Dit is ook dié roete wat Maritz tydens die oorlog gebruik het op pad na Vanrhynsdorp. Maar ongelukkig kon die perde nie onder die berg aanpas nie, en is almal dood, onder andere ook twee baie goeie merries, Tyna en Grace waarmee oupa Theunis (Tienkie se pa) in 1926 ’n beker verower het op Calvinia se Boereweek (wat ons vandag as landbouskou ken) in die karperdklas.
Wat dit so ’n groot slag vir Willemsrivier gemaak het, is die feit dat die meeste van hul perde-afstammelinge van die Prins van Wallis se perde was.
Met die Prins van Wallis se besoek aan Suid-Afrika in 1927, het hy spesiaal perde vir die doel van Engeland af saamgebring om sy koets te trek. Na sy besoek hier, het die perde in Suid-Afrika agtergebly. Oupa Paul Kotzé (Tienkie se oupa) het een van hierdie hingste met die naam van Ladise, op Robertson by ene mnr. De Wet gaan koop. Dit was ’n pragtige dier en daarna is Willemsrivier se perde vinnig “opgeteel in gehalte”.
Deel Hierdie Artikel