Ander gebruike op die werf
Gedurende die tyd wat oupa Paul en ouma Mieta (getroud in 1871) op Willemsrivier met hul elf kinders gewoon het, is daar elke weeksoggend ’n skaap geslag en op Saterdae sommer twee. Een van dié was vir Sondag se gebruik. Indien ‘n bees geslag is, was dit nie eers genoeg vir ’n volle week nie.
Behalwe vir die huisgesin, het al die bruinmense wat op Willemsrivier gewerk het, ook uit die huis kos gekry. Die twee Jode wat die winkel daar gehad het, het ook hul porsie gekry, terwyl die Juffrou van die skooltjie by oupa Paul en ouma Mieta aan huis geëet het. Menige dag was daar ook gaste wat ‘n maaltyd daar geniet het. Gedurende die periode 1900 en 1920 het daar ongeveer 75 wit en 150 bruinmense op Willemsrivier gewoon.
Oupa Theunis se een suster was getroud met Louis Pienaar, beter bekend as “Rooi Pienaar”. Hulle was vreeslik arm en het maar sukkelbestaan gevoer. Hy was die sogenaamde ystersmid op Willemsrivier. Hoewel hy ook vir die McGregors gewerk het, en hier-en-daar vir ander mense, was sy meeste werksaamhede op Willemsrivier vir die Kotzé’s.
Hoewel Rooi Pienaar nie self hoefysters gemaak het nie, kon hy baie goed perde beslaan. Hy het ook al die waens op die plaas se wiele “gekort”. Dit is gedoen wanneer die ysterband om die houtwiel begin los raak het as gevolg van slytasie. Dan word die ysterband afgehaal, korter gemaak en weer warm gemaak. Daarna word dit terug geplaas op die wiel en natgegooi sodat dit kon inkrimp om goed te pas.
Behalwe vir die koring- en saaiboerdery op Willemsrivier, was die ander vertakking skaapboerdery. As gevolg van al die jakkalse was die boere nooit sonder hul gewere en goeie honde by die skaap in die veld nie. In daardie dae is meestal met vetstert-skape geboer. Oupa Theunis het nie geld gehad om boorgate te laat sink nie en die skaap het meestal by “vaste watertjies” in die veld gedrink. Gelukkig is die water van die Heiveld neutvars vir hierdie doel.
Elke Kotzé op Willemsrivier het sy eie “merk” vir sy trop skape gehad. Dit het gewissel van ‘n “swaelstert” en een of twee “halfmaantjies van voor en/of van agter”. So het elkeen geweet aan wie die skaap behoort.
Jare gelede was daar’ “verpligte dip” as gevolg van brandsiek wat onder die skaap uitgebreek het. ‘n “Dipglasie” (uurglas) is gebruik om te verseker dat die werk deeglik gedoen is. Elke skaap moes vir ’n sekere tyd in die dipwater wees want dit moes vir ‘n bepaalde tyd in kontak met die medikasie wees.
Deel Hierdie Artikel